NG senior klub besoek Clanwilliam Museum

Huldeblyk aan Tolla
October 10, 2018
Clanwilliam-museum bederf Sederclan Dienssentrum se dames
October 10, 2018
Show all

NG senior klub besoek Clanwilliam Museum

Op Woensdag, 9 Mei het die Clanwilliam NG Kerk se senior klub die Clanwilliam Museum besoek. Die groep bestaan uit ongeveer 30 mense en dit was alles behalwe ’n gewone besoek. Hulle het omstreeks kwart voor tien by die museum aangemeld en die dag ’n bietjie kom opkikker. Soos hulle deur elke vertrek in die museum beweeg het, het baie van die lede vertel van hul eie kinderdae.

Daar was ook twee dames uit die groep wat al in hul negentigs is en hulle het gesels oor elke item wat hulle herken het en watter dinge hulle geniet het in hul jeug. Een dame het die personeel ook ’n paar lesse vertel wat sy tot op hede geleer het. Dit was vir die groep en vir die museum ’n ongelooflike ervaring.

’n Mens kry voorwaar ’n nuwe insig oor hoe party mense se lewens in daardie generasie was.

“Ons het gesien dat baie van hulle die lieflikste en ook die snaaksste karakters kan wees. Ons het baie gelag en gesels en hulle het ons dag asook ons week vir ons kom ophelder,” sê Harriet April, wat die groep deur die museum geneem het en voeg by dat die museum na nog baie soortgelyke besoeke uitsien.

Die museum se tye vir die wintermaande is ook aangepas. Op weeksdae sal die museum oop wees van 8:30 tot 16:30 en op Saterdae van 8:30 tot 12:00. Die Clanwilliam Museum hou op Woensdag, 16 Mei, om 17:30, hul algemene jaarvergadering.