Huldeblyk aan Tolla

NG senior klub besoek Clanwilliam Museum
October 10, 2018
Show all

Huldeblyk aan Tolla

Tolla van der Merwe – die grapjas en al ombekende komediant wat in die 90’s volksbesit geword het – is op Saterdag, 6 Oktober deur sy tuisdorp onthou. Hy sou vanjaar 75 jaar oud gewees het en so het die museum komitee besluit om ’n huldeblyk vir hom te reël. En daar was niemand beter om te vra as sy jare lange vriend Danie Niehaus nie.

Die ou tronkmuseum is weer eens ingespan vir ’n lieflike buitelug aand geleentheid. Na ’n baie warm dag op Clanwilliam was dit ’n perfekte aand en het familie en vriende saamgetrek vir die spesiale aand.

Danie Niehaus het die gehoor omtrent oor die wêreld geneem, van Italiaanse musiek tot sy pragtige Somer in Parys en Jy is Vrou, opgedra aan Marieta, Tolla se weduwee. Dit her voorwaar gevoel of mens in ’n straatkafee in Europa sit en kuier saam met vriende.

Danie het selfs vir die gehoor ’n stukkie gerap – glo geïnspireer deur Jack Parow – en liedjies van onder andere Prince en Tom Jones gesing.

Hy het die gehoor op ’n onthou en vertel geneem van tye wat hy en Tolla saam opgetree het, die hele land vol, onthou hoe lief hy vir sy gesin was en hoe hy hul almal net altyd bymekaar wou hou onder een dak. Hy onthou ook hoe hul in enige dorp in die land gery het en hoe alle mense op straat vir Tolla herken het en hoe nederig hy almal altyd met respek behandel het en geselsie aangeknoop het. Tolla het wel een keer genoem dat die gegroet en waai, soos die queen, nogal ’n groot werk was en hy het toe gesê hy dink hy moet vir hom ’n “handjie” laat maak sodat hy net die toutjie kan trek en die hand vanself vir die mense waai.

Marieta van der Merwe, Tolla se weduwee, het saam met haar gesin en Griet, hul huishulp van 50 jaar, asook Riana Schreuder, Tolla se suster, en haar gesin die aand saam bygewoon en gedeel in die onthou.

’n Aand sonder ’n Tolla-grap sou nie dieselfde gewees het nie, daar is ’n CD gespeel waar Tolla vertel van hoe warm dit in Clanwilliam raak – “dit raak so warm dat die hond die kat jaag, maar altwee stap”. Soos altyd het mense gelag dat die trane loop, maar hierdie keer het daar tog ’n traan geloop oor die legende van Clanwilliam, wat na 18 jaar nog steeds deur soveel mense gemis word. Wonder wat hy van die okkasie die meeste sou geniet het?

Danie het ook die gedig wat Anel, Tolla se dogter, onlangs vir haar pa geskryf het gelees:

Vir Pa
As ons moet groet
Bring jou lagplooie, bring jou bol maag
Bring jou slap voetjie en jou baard wat raak aan jou kraag
Bring jou klein tandjies wat uitsteek net as jy lag
Bring jou hop-knie as jy sit en wag
Bring jou kwaad word as daar geen antwoord is op die foon
Bring jou mooi hart wat almal om jou beloon
Bring jou rugby kyk op ’n Saterdag
Bring jou braaivleis en jou hardop lag
Bring jou bont hemp en jou strepiesdas
Bring jou jare se Vadersdaggeskenke in die kas
Bring jou blikbeker, bring jou bokkoms, bring jou Disprins, bring jou jas…
Bring alles wat jy altyd was en hou my nog net een keer vas

(Anel Horne se gedig vir haar pa – bron Die Burger 25 Augustus 2018)

Die fondsinsameling was gehou ten bate van Tolla se kamer in die museum. Die museum nooi almal om gerus hierdie besonderse nalatingskap van toekennings, foto’s, rugbytrui ens te kom besoek.

Die museumkomitee wil almal bedank wat saam kom kuier het en almal wat hard gewerk het om van die aand ’n groot sukses te maak.Besoek gerus Clanwilliam Ou Tronk Museum:
Maandag – Vrydag 08:30 – 17:00
Saterdag 09:00 – 12:00
Sondag gesluit

Lus vir lag: Loer gerus op YouTube na ’n groot verskeidenheid grappe van Tolla, en onthou saam met ons. – https://www.youtube.com/watch?v=JPrHM-Jfprg&index=46&list=PLf_DOyja6eWUuJIjvhK8Qc8AcAhsH8_S